Thursday, November 02, 2006

DRC pastors object to denominations position on 'same-sex marriage'

This is the letter we sent to Dr Coenie Burger as Chairman of the Synodal Commission of the General Synod. The letter was written by dr J Marais of Middelburg- Kanonkop (Mpumalanga) and signed by several dominees from all over the country.

--------------------------------------------------------------------

Die Voorsitter van die ASM

Algemene Sinode van die NG Kerk



Geagte Dr Burger,



Ons rig hierdie skrywe aan u in die lig van verskeie berigte in die media en die voorlegging van drr Ben du Toit en Kobus Gerber, rakende die N G Kerk se aanbeveling dat die huwelikswet herskryf word sodat “aan alle kategorieë van huwelike (en verbintenisse) die selfde waarde toe geken sal word.” Die N G kerk beveel dus aan dat aan gay huwelike (verbintenisse) dieselfde waarde as aan ander huwelike toe geken sal word.



Ons versoek dat die ASM:



1. Verduidelik hoe dit gebeur dat dit wat die N G Kerk nie besluit het nie, as die standpunt van die N G Kerk aan die staat voorgelê word. Dit waaroor dit in die skrywe gaan is dat die N G Kerk die staat vra om gay huwelike (verbintenisse) in die huwelikswet in te skryf. Die N G Kerk het nog nooit so ‘n besluit geneem nie. Ongeag watter argumente aangevoer word om tot die standpunt te kom. Die feit dat die voorstellers nog die heteroseksuele huwelik aanvaar is ‘n bron van dankbaarheid, maar maak die voorstel dat die kerk gay huwelik aanbeveel nie die besluit van die N G Kerk nie.

Ons is nie seker of die ASM die voorlegging goed gekeur het nie. Uit die feit dat die sekretaris van die ASM mede voorsteller van die voorlegging is, en dat die voorlegging op die N G Kerk se webwerf geplaas is, wek die indruk dat u daarmee eens is. Die verder feit dat die ASM nie op die media berigte wat reeds verlede week verskyn het, en oor die kerknuus uit gesaai is, op hierdie punt gereageer het nie, wil dit voorkom dat die ASM bewus was van die aanbeveling in die voorlegging. In die lig van die ontsteltenis van predikante en lidmate versoek ons ‘n openbare verduideliking van die ASM se posisie oor die versoek van die N G Kerk dat gay huwelike (verbintenisse) in die huwelikswet ingeskryf word.



2. Indien die ASM nie bewus was van die inhoud van die dokument nie, wil ons vra hoe dit moontlik is dat kerklike amptenare die mag het om sulke besluite te neem, selfs al het die Sinode dit nog nie gedoen nie. Ons versoek dat die ASM ook in hierdie geval ‘n verduideliking sal gee.



3. Ons versoek die ASM om dit duidelik te stel dat die voorlegging nie enige verband met die werk van die gay taakspan van die Algemene Sinode het nie en dat die taakspan voorstelle vir die Algemene Sinode van 2007 voorberei. Dit moet ook duidelik wees dat die Algemene Sinode oor die saak van gay huwelike (verbintenisse) sal besluit. Wat ons egter vreemd vind is die feit dat hoewel dr Du Toit, wat deel van die taakspan is en deeglik bewus is van die ernstige verskille binne die kerk oor gay huwelike en van die besluite wat ‘n hele aantal streek sinodes reeds in die verband geneem het, nou namens die N G Kerk vra dat die staat gay huwelike (verbintenisse) in die huwelikswet inskryf. Dit is vir ons onaanvaarbaar dat hy sy posisie in die kerk so gebruik.



4. Die voorlegging van Drr Ben du Toit en Kobus Gerber wat die staat namens die NG Kerk versoek om die huwelikswet te wysig , blyk voortydig te wees en dra die ondertoon van beïnvloeding van die besluite van die komende Algemene Sinode. Hierteen maak ons ten sterkste beswaar en versoek die ASM om te verseker dat die debat verder in die kerklike media en kerklike vergaderings ewewigtig sal voortgaan, sodat die kerk in 2007 ‘n ingeligte besluit kan neem. Daarmee saam versoek ons deursigtigheid sodat lidmate ingelig sal wees oor die stand van die debat.



Verder:

Ongeag watter argumente drr Du Toit en Gerber gebruik om hulle voorlegging te motiveer, is die boodskap wat die wêreld ingestuur word, dat die N G Kerk gay verbintenisse (huwelike) aanbeveel. Van hierdie boodskap distansieer ons, ons omdat ons geen regverdiging vir gay huwelike in die Bybel vind nie.



Ons betreur dit dat die N G Kerk se optrede verduidelik moet word, omdat dit wat die kerk skynbaar gesê het ontsteltenis veroorsaak, soos in hierdie geval. Die geloofwaardigheid van die kerk kom vir ons hier op die spel.



In die lig van die ernstige ontsteltenis van lidmate en leraars van die N G Kerk vra ons u dringende reaksie op hierdie sake.



Hartlike Groete

No comments: